Showing posts with label pastei. Show all posts
Showing posts with label pastei. Show all posts

Friday 30 June 2023

Aartappel en Prui Pastei

 

Die oorspronklike rede vir die ontstaan van die blog was om my resepte te dokumenteer. Partykeer maak mens iets besonders en jare later het jy vergeet wat jy gemaak het en hoe jy dit gemaak het. 

Oor die jare het my kosmaak heelwat verander maar tog ook dieselfde gebly. Inspirasies kom van verskillende plekke maar die mees suksesvolle kosserasie maak goed kom van die bestandele beskikbaar en 'n bietjie verbeelding en ook bietjie ondervinding. 

Die kwaliteit van die bestandele wat jy gebruik om iets te maak het 'n direkte korrelasie met hoe dit gaan uitkom. Ons gaan eet weinig uit deesdae want ek kan net nie sien om soveel te betaal vir plekke wat goor bestandele gebruik het om hulle winsmarge te verbeter nie. Die meeste restaurante skimp deur goedkoop bulk bestandele te koop waarvan die kwaliteit en oorsprong bevraagteken kan word. 

Ek het nog altyd van die Spur se burgers gehou en ons het noudiedag soontoe gegaan vir 'n burger deur loadshedding. Dit was seker die goorste burger wat ek nog gehad het en het dit net so terug gestuur. Die eienaar verduidelik toe dat hulle nou gevriesde patties van hoofkantoor kry en maak nie meer hulle eie nie. Ek is seker hulle het nou 'n kontrak om die pakkies gevriesde patties wat jy in die supermarkte kry in bulk te koop teen 'n geweldige afslag en winsmarge. 

Ons is groot aanhangers van Masterchef Australia en die nuustste seisoen is nou aan die gang. My gunsteling is die "Mystery Boxes" waar die deelnemers 'n paar bestandele kry en dan iets spesiaals daarmee moet doen. 

Hierdie pastei was nou my "mystery box".

Wat ons gehad het was klein aartappeltjies, 'n pakkie pruie en 'n pakkie Spaanse Choriso en Serano ham. Die aartappeltjies weet ek is creamy en baie lekker om heel te hou. My gedagte was om die Choriso te gebruik om 'n aartappel gebakte iets te maak maar die uitdaging is hoe om nie die Choriso heeltemal laat uitdroog nie en te laat amalgameer in die aartappel gebak. Voila, sit dit in 'n pastei kors.

Die een bestaan uit vier elemente wat moet voorberei word:

  • Die Pasteideeg
  • Gekookte aartappels
  • Gaar pruie
  • Bechemel sous. 

Pasteideeg

Ek het hierdie pasteideeg al heelwat gemaak en dit is voolproof. Dit bestaan uit dieselfde gewig botter en meel en koue water en sout. Ek het al voorheen 'n blog hieroor gedoen. Kyk bietjie hierna:  https://kosserasies.blogspot.com/2022/07/karaoke-hoenderpastei.html

 Dit sou 'n kleiner pastei wees en ek het nie soveel botter beskikbaar gehad nie so ek het omtrent 160g botter en 160g meel gebruik. 

Aartappels

Die aartappeltjies is pienk baba aartappeltjies wat net so heel gekook word tot sag. 

Pruie

Ek wou die Pruie sag gehad het maar nie gebraai soos uie nie. Ek het hulle saam met bietjie botter en paar stukkies van die Choriso bietjie geposjeer in botter en toe gekook in melk. Die melk het ek later gebruik vir die witsous. 

Bechemel sous

Dit is 'n redelike standaard witsous, botter en meel en melk. Dit verskil was dat ek die melk waarin die pruie gekook het gebruik het en baie belee cheddar kaas ingesit het om dit 'n baie dik sous te maak. Dit moet die pastei bind en nie uitloop as jy die pastei sny nie. 

Bymekaar sit

Die aartappels, pruie, choriso en ham het ek in lae in die bak gesit.

Die ham het ek op die pastei deeg gesit voor ek die ander bestandele ingesit het. Dit was nogal 'n ge-inspireerde besluit want dit het die onderste deeg meer crispy gemaak deur 'n versperring te maak met die nat bestandele. 

Die aartappeltjies middeldeur gesny en gepak. 


Volgende was 'n laag witsous.

Dan die Choriso op die witsous

Die pruie volgende

Die res van die witsous

Die bo-laag van die pasteideeg

 

Smeer met eier wat met bietjie water geklits is, reg vir die oond.

Finale pastei

Opgedis


Resep

Bestandele

+- 400g baba aartappeltjies

5 groot pruie (Leeks)

1 Pakkie Choriso en Serano ham

Melk 

Omtrent 'n koppie gerasperde cheddar kaas

Sout

160g botter vir die pasteideeg en ekstra vir die posjeer van die pruie en vir die witsous.

160g koekmeel en ekstra eetlepel of twee vir die witsous 

1 eier geklits met bietjie water

 Metode

  1.  Begin deur die pasteideeg te maak. Metode hier: https://kosserasies.blogspot.com/2022/07/karaoke-hoenderpastei.html
  2. Laat rus pasteideeg vir ten minstens 'n uur in die yskas voor jy dit uitrol. Berei intussen die res van die bestandele voor.
  3. Kook aartappeljies in water tot sag
  4. Maak die pruie goed skoon sodat daar geen grond in die bo-punt is nie. Sny in groot stukke. 
  5. Snipper paar velletjies Choriso en posjeer saam met die pruie in botter. 
  6. Bedek die pruie in melk en laat kook stadig tot sag. 
  7. Dreineer die melk en hou eenkant vir dit witsous. 
  8. Maak 2 eetlepels botter in 'n kastrol warm en braai 1-2 eetlepels meel tot borrelend. Gooi die warm melk van die pruie daarin en roer vinnig tot glad. Gooi nog melk by bietjie vir bietjie en roer goed tot glad. Laat dit begin prut voor nog melk bygegooi word. Dit moet 'n stywe sous wees.
  9. Laat dit witsous 'n bietjie prut en haal van die stoof af. Roer die koppie cheddar kaas in die sous in tot gesmelt en glad. 
  10. Laat als afkoel totdat die uur vir die pasteideeg verby is en jy kan begin om die pastei aanmekaar te slaan. 
  11. Voorverhit die oond terwyl jy die pastei vervaardig soos met die fotos bo
  12. Bak vir +- 40 min teen 190C

Volgens Gwynneth was dit die lekkerste pastei wat sy nog gehad het. So ek moes dit net eenvoudig deel. 

Mooibly

Dirk














Monday 11 July 2022

Karaoke Hoenderpastei

 My buurvrou het Saterdag 50 geword. Baie geluk Karen! 

Dit was 'n karaoke partytjie en om vir Robbie Wessels te quote, daar was drank betrokke. Veral omdat dit winter is in die Kaap, met koud en reen, spesifiek heelwat rooiwyn. Rooiwyn het die merkwaardige kwaliteit dat dit nie net die koue geselig maak nie maar dit verlaag ook jou weerstand teen karaoke.

Gwynneth kan regtig mooi sing. Ek inteendeel kan nie. Toe ons nie meer die meisie met die clipboard kon ontwyk nie het ons Blouberg se Strand om die lys gesit. Dit was Gwynneth se go-to keuse voor die partytjie. Ek het gedink ek kan 'n Robbie Wessels doen maar dit was hoe ver dit gekom het. Ek was NOOIT van plan om dit met 'n mikrofoon voor almal te doen nie. 

Blouberg se Strand was mooi en nostalgies en ek en die mense waarmee ons gekuier het het gedink dit was heel ok. Soos ek se Gwynneth kan mooi sing. 

Daar was mense wat kon perform en sing en dit was regtig lekker, daar was ook die wat nie kon nie en dit was ook baie entertaining. Toe die clipboard lys deurgewerk is was daar impromptu versoeke van die gehoor en toe doen ons Robbie Wessels se Asseblief My Lief. Gwynneth het nie die song geken nie en dit was aan my oorgelaat... Die eerste vers was 'n aborsie, met ander woorde, net musiek met 'n gemompel. Dit was baie vinniger as wat ek gedink het en ek was natgesweet na die eerste vers... Met die tweede vers kry ek my ritme en doen 'n Robbie Wessels. Ek is seker dit was nie goed nie maar dis die meeste pret wat ek in 'n lang tyd gehad het. 

Die partytjie, oftewel die rooiwyn, die hamburger en tjips van die food truck en sny koek het die keto dieet opgevoeter. Sondag besluit ons dat aangesien ons nou in cheat mode is ons hoenderpastei gaan maak. Ons kan volgende week met die gevolge deal. 

Hoenderpastei

 

Die rede vir hierdie storie is eintlik om die tertkors resep en metode te deel. Dis iets wat ek nou al heelwat kere baie suksesvol gedoen het. Dis baie eenvoudig, dit neem net 10 min om te maak en dit is ongelooflik lekker.

 In kort wat mens kan onthou is dit per gewig dieselfde hoeveelheid meel as botter met bietjie asyn, sout en yswater. 

Pastei kors bestandele:

  • 250g meel of kombinasie van meel (Ek het gebruik 100g koekmeel, 100g wit brood meel, 50g Tapioka meel - Die tapioka maak dit meer crispy, my)
  • 250g botter
  • 10g sout
  • 10ml goeie asyn
  • +- 180ml yswater
  • 1 eier vir verf

Pastei kors metode:

Hierdie is eintlik makliker as wat die klink. Baie lekkerder en vinniger, dalk goedkoper ook, as om winkel deeg te gebruik. 

Die geheim is dat als moet koud wees. Sit die botter in die vrieskas vir paar minute en gebruik baie koue water. Probeer ook om so min as moontlik jou hande te gebruik. Ek gebruik 'n danish whisk vir die meng, 'n Groot vurk kan dalk ook werk.

  1. Weeg en gooi die meel en sout in 'n groot genoeg bak en meng om die sout te versprei. 
  2.  Rol die koue botter in die meel om te bedek en strooi meel oor die rasper. Dit gaan verhoed dat die botter vas sit aan die rasper en hou ook kontak van jou hande van die botter af. 
  3. Rasper die botter oor die meel. Probeer om dit so vinnig moontlik te doen sodat die botter nie kan warm word nie. 
  4. Meng die botter in die meel in. 
  5. Gooi die yswater klein bietjies op 'n slag in terwyl jy meng. Dit moet net genoeg water wees om die meel te bind. As die mengsel nog melerig lyk terwyl jy meng gooi paar druppels water in om dit te inkorporeer. 
  6. Druk die mengsel effe was om 'n bal te vorm. 
  7. Sit jou deeg op 'n meelbestrooide oppervlak om uit te rol. 
  8. Rol die deeg lank uit en vou dit in derdes. Strooi genoeg meel oor en onder sodat die botter nie op die koekroller of werkbank was sit nie. Doen dit 4 keer. 
  9. Sit die deeg in broodsakkie of bakkie en bere in die yskas tot jou pastei vulsel voorberei is. Ten minstens 'n uur maar langer is beter. 
  10. Ek gebruik omtrent die helfte vir die bak en die helfte vir die deksel vir die maak van die pastei. 
  11. Klits 'n eier met bietjie water en verf die pastei kors hiermee voor bak. Verf ook jou rante voor jy die deksel van die pastei opsit. Dit laat dit mooi bind. 
  12. Bak die pastei vir 40 - 45 min teen 180C. 

 Pastei vulsul:

Die beste is om 'n heel gaar hoender te gebruik. Woolies se Sondag special van twee gaar hoenders is die beste. Ons kon vandag nie een kry nie en het 'n heel hoender in die air fryer gedoen. 

Vir doelneindes van hierdie storie is die vulsul minder belangrik. Ons het bietjie rof gegaan en het 'n pak Simba chips in gekrummel, ham gesnipper en witsous gemaak wat als in die vulsul ingegaan het. 

Vir die vulsul wat ons voorheen gedoen het wat baie goed gewerk het is, soos bo, 'n heel hoender, 'n pakkie two-minute-noodles, sampioene, en 'n bechamel sous (witsous met kaas).

Ek het al paar keer ook die pastei kors gebruik vir worsrolletjies.

Onder ook 'n paar fotos van die metode en pastei. 

Groete!

Dirk

 


















Monday 17 August 2015

Wolf Pastei

Dis wat die kinners dit gedoop het. Wolf Pastei! Net omdat my hoender eerder na 'n wolf lyk as 'n hoender.
Hoender en groente pastei

Ek kan allerhande goed doen maar prentjies is nie ek nie. My hoender het 'n kop, 'n bek, oê en selfs kamme, so hoekom kan dit nie 'n hoender wees nie?

Hoenderpastei is eintlik een van die maklikste en vinnigste pasteie om te maak. Kook die hoender, ontbeen dit, maak 'n dik sous met enigiets wat jy byderhand het daarin. Sit it in 'n deeg en bak.

Hierdie een het heel besonders uitgekom, ek het 'n pakkie groen groentes gehad wat ek kleiner gesny het, bietjie lensies en 'n pakkie "two-minute-noodles" ingesit.

Hier is die volledige resep vir hoender en groente pastei aka Wolf Pastei:

Bestandele:

3 Hoenderborsies met vel en been.
500g gemengde groente (klein mielies, brocoli, boontjies, murgpampoentjies)
1 groen soetrisie (green pepper)
1 pakkie sampioen gegeurde vinnig-gaar noodles
1 handvol rooi lensies
1 blokkie aftreksel (groente of hoender of albei)
Swart peper
Oringanum
2 pakkies pastei deeg.
Botter en meel vir 'n witsous.
O ja, sout ook.

Metode:
Kry 'n groot genoeg pot om jou pastei filling te kook en begin solank die hoender kook in 'n koppie of twee water.
Terwyl dit kook sny al jou groente in kleiner stukkies.
Hoe die murgpampoentjies en broccoli eenkant want dit moet nie weg kook nie.
Gooi dan al die bestandele buiten die witsous en die eenkant-groente sommer saam met die hoender wat kook. Al die geursels en aftreksels ook. Gooi ook die speserye in - omtrent 'n teelepel elk.
Haal die hoender uit sodra dit gaar genoeg is om te ontbeen.
Ontbeen die hoender en sny fyn op. Gooi die hoender terug in die pot.
As alles in die pot gaar is gooi dan die eenkant-groente by en maak die sous dik (sien die cheat witsous hieronder)
Moenie te lank kook nie. Dit gaan nog binne die pastei bak ook.

Om die sous dik te kry is hier 'n cheat witsous metode:
Sit twee eetlepels botter en twee eetlepels meel in 'n koppie in die mikrogolf. Sodra dit borrel roer deur en sit vir nog paar sekondes in sodat dit opborrel in die koppie. Gooi dan die warm borrelende botter en meel bedryf in die pot in die sous. Of roer van die vloeistof by in die koppie en gooi dan terug in die pot.  Dit sal die sous onmiddelik dik maak.

Sit een pakkie kits deeg onder in die bak. Gooi jou mengsel in en sit die ander pakkie deeg bo-op.

Dit bak vir omtrent 40 min (of tot dit mooi bruin is) teen 190 Celcius.

Geniet dit!